Kerfees in Namakwaland is ‘n
wonderlike tyd en al het ons nie baie nie laat dit ons nie afsit om ‘n heerlike
tyd te he nie. Die musiek, die mense, die braai vleis en die kinders wat lag is
van die beste herinneringe wat ek koester. Soos ‘n mens ouer word verloor jy
dinge in die lewe, eers is dit die mense om jou, later is dit jou drome een vir een en eendag as
jy jouk om kry is dit Kersfees. Dit is ‘n moeilike werklikheid wat ons as mens
moet aanvaar.
Ek skryf hierdie stuk met die
musiek van Allou April in die agtergrond terwyl ek omring is met geboue en die
gejaag na wind. Soos die Prediker gese het, is al ons drome en suksesse aan die
einde van jou leeftyd ‘n gejaag na wind. Alles waar voor jy so hard gewerk het
kom tot niks. Niks.
So, terwyl ek besig is met my
gejaag na wind verlang ek na die mense van Namakwaland – my oorlede Ouma en Oupa,
my oorlede vriend Neels (Oor wie ek nie gehuil kan kry nie. Die huil sit hier
binne in my maar dit is moeilik om uit te kom. As dit net wil uitkom sal ek
beter voel maar nou wil dit nie.), my vriende wat oor die jare my famlie geword
het en my familie.
Die beste en die laaste keer wat
ons as familie bymekaar gewees het ‘n Kersfees was in 2005. Die jaar wat by die
army klaar gemaak het. Dit het spontaan gebeur. Eers het my een Antie laat weet
sy kom en toe my een oom (die ander een was by die huis) en op Kersfees het my ander
Antie kom kuier. Al hoewel twee van my Ouma en Oupa se kinders nie daar was nie
het dit nie saak gemaak nie.
Ek het lang arm musiek op my
laptop gehad wat ek op ‘n CD gesit het en wat ons in die DVD klaar gespeel het.
Ek het gedans – ons almal het gedans. Ek het die voorreg gehad om saam met my
Ouma te dans. Dit was toe sy nog sterk was want die jare daarna het sy al
agteruit gegaan tot sy ‘n skaduwee van haarself was. Ons het gemmerbier gedrink
en koek geeet. Vleis geeet.
Wat ‘n tyd.
Vandag dink ek daaraan en verlang
na my wereld en sy mense. Waar vandaan ek kom is nou wel droog en kaal in die
sommer maar die mense is gasvry en te gemoedkommend; wat ‘n eindproduk van
swaarkry is. Is net wanneer jy regtig swaar gekry het of rerig swaarkry dat jy
so gasvry en mededeelsaam kan wees sonder voorgee. Mense kan nou maar wat se
van ons wereld en sy mense maar nie een kan se ons is suinig en vrekkig nie.
Ons almal weet hoe om suiker tot more te vra.
Ons mense het ook hulle eie
soorte trots, ‘n trots wat jy nie uit hulle sal kry nie. En dit verskil van
hoogmoed. ‘n Trots wat hulle ook partykeer in stilte sal laat vergaan net sodat
jy nie hulle menslikheid van hulle kan neem nie. Daardie trots is wat hulle nog
mens hou al kry hulle hoe swaar. En dit is die trots wat in my en enige ander
kind van die Namakwaland is. Jy kan probeer om oor ons te loop en jy kan dit
miskien regkry maar my menslikheid sal agterbly al beteken dit my eie
ondergaan. Kruip is vir enige mens swaar maar nog swaarder vir iemand van
Namakwaland.
Maar genoeg van die trots en die
swaarkry en terug na Kersfees in Namakwaland.
Een van die dinge wat my altyd
nostalgies maak is die reuk van vuur in die skemer en die langarm musiek wat so
eie aan ons mense is. Die tipe musiek wat dit ontmoontlik vir jou maak om stil te
sit. Of jy nou kan dans of nie maar dans sal jy – al is dit net voutjies klop. Gee
vir Pieter Pillie en Oorlede Ant Grietjie ‘n kitaar en jy het ‘n party wat die
son sal laat op kom.
En terwyl Allou se Madiba’s Jive
my terug bring na die werklikheid toe, laat die herinneringe van Kersfees in
Namakwaland my met ‘n snaakse tevredenheid.
Geseende Kersfees.
Add caption |
Toe gewy aan my vriend Cornelius
Ovies, vriende en familie.
No comments:
Post a Comment